Soms wens ek die mure van Sonop kon praat en die stories van die verlede vertel. Gelukkig dra die mure die tradisie, kultuur en broederskap van al die jare saam en so word dit deel van elke nuwe Sonopper se Sonop-ervaring. Wat ‘n groot voorreg is dit nie om in ‘n plek soos geen ander te kan bly nie.

CM Kriel, Voorsitter 2019/20

‘n Sonop inwoner is ‘n doodnormale persoon wat harder werk as ander normale mense en dit is die kern tot Sonop se sukses.

Dewald van Lingen, HK 2019/20

“It’s hard to beat a person who never gives up.” – Babe Ruth. Hierdie aanhaling som ‘n Sonopper perfek op. ‘n Sonopper gaan nie noodwendig die beste op die veld of die slimste in die klas wees nie, maar hy gee NOOIT op nie, en dis wat Sonop laat uitstaan bo al die ander koshuise, dis wat Sonop die beste maak.

Stefan Kruger, HK 2019/20

Sonop vat jong seuns en leer hulle wat dit is om manne te wees. Manne wat met waarheid en krag die Koninkryk van God in ons midde vestig.  Manne wat met Liefde en Godvresendheid hulle rolle as hoof en priester van hul gesinne sal inneem.  Manne wat in God se lig wandel en aanhou soek na ‘n dieper verhouding met God.

Jacobus Cordier, Onder Voorsitter 2019/20

Sonop is jou onregverdige voordeel in die lewe. Hierdie is iets wat ‘n Oud-Sonopper vir my gesê het en tot vandag toe bly dit my by. Elke dag wat verby gaan sien mens dat Sonop’n belegging in mens se lewe is.

Alex Winter, HK 2019/20

Wat is erger as ‘n huis sonder ‘n moeder…? Beslis “Sonop sonder ‘n Nonnie” As Sonop Nonnie is dit nie net my plig om elke jongman se maag vol te hou nie, maar uit liefde dra ek elke Sonopper se belange op die hart. Nonnie is jou ma weg van die huis…

Nonnie Jenny Buys

Dit gaan oor trots. Dit gaan oor geskiedenis en tradisie. Dis die Hoop vir die toekoms. Op alle gebiede, van kultuur , akademie en op die sportveld. Word die gewone outjie eweskielik n held. Sondagaand ego die klank van n groep mans deur die Strate van Pretoria. 105 jaar se tradisie is altyd saam in gees. Want Bittermin kan n Sonopper wees.

Adriaan Lombard, HK 2019/20

Hardewerk, deursettings vermoë en moeilike tye. Sonop leer jou hoe om onder moeilike omstandighede te funksioneer – diamante word slegs onder hoë druk gevorm. Christelike waardes, karakter en deursettingsvermoë, dis ons kultuur.

Elvis Zondi, HK 2019/20

MEER OOR ONS

HOE LYK SONOP

Sonop beslaan ses ou burgererwe in die boomryke Brooklynomgewing – skaars een kilometer vanaf die UP hoofkampus. Anders as die ander manskoshuise op die kampus, bestaan Sonop nie uit ‘n groot gebou met gange en kamers nie, maar uit mansjoene (klein huisies) met vier kamers elk waar inwoners vanaf hulle tweede studiejaar woon. Tussen die mansjoene is groen grasperke en mooi tuine wat ‘n regte huislike atmosfeer skep.

Die eerstejaars woon in die Stalle, die pastorie of die Bloutrein – elkeen met sy eie unieke karakter en atmosfeer.

Sonop is in streke verdeel. Die Weste, Ooste, Noorde en Sentraal het net soos die eerstejaars se woonplekke elkeen hulle eie styl en manier van dinge doen. Elke streek het sy eie informele leier wat jaarliks deur die streek onderling verkies word: die Weste se Godfather, die Noorde se Hoofsaag, die Ooste se President en Sentraal se Hoofpaal.

INTERNET

Sonop was destyds die eerste koshuis by UP wat internettoegang vir sy inwoners gebied het. Elke Sonopper het 24 uur per dag onbeperkte internettoegang. Die “wireless” netwerk maak dit vir die inwoners moontlik om enige plek op die terrein saam met mede-studente op hulle skootrekenaars aan groepsopdragte te werk of op die tuinbank voor hulle kamers eposse vir hulle familie en vriende wereldwyd te stuur.

‘n Hoogs professionele maatskappy is verantwoordelik vir die oorhoofse instandhouding van die netwerk terwyl ‘n “Internet-komitee” wat uit huislede bestaan, die grondvlak administrasie saam met die koshuishoof en adminisitratiewe dame behartig.

TROETELDIERE

Elke seniorstreek in Sonop (Ooste, Weste en Noorde) word toegelaat om ‘n hond as troeteldier aan te hou. Besoekers word gewoonlik deur ‘n paar van die honde gegroet.

Hierdie honde het alles behalwe ‘n hondelewe – inteendeel – hulle lewe soos konings !

Sonop se honde is ‘n gereelde gesig by rugbywedstryde op LC de Villiers waar hulle saam met ‘n eerstejaar aan ‘n leiband die skouspel op die veld gadeslaan. Ook tydens huisvergaderings word daar vir hulle plek gemaak om deel te wees van die belangrike beraadslagings van die inwoners.

Elke hond moet deur ‘n “inlywingseremonie” gaan alvorens hy as ‘n Sonopper aanvaar word en sy sertifikaat ontvang.