Soms wens ek die mure van Sonop kon praat en die stories van die verlede vertel. Gelukkig dra die mure die tradisie, kultuur en broederskap van al die jare saam en so word dit deel van elke nuwe Sonopper se Sonop-ervaring. Wat ‘n groot voorreg is dit nie om in ‘n plek soos geen ander te kan bly nie.

CM Kriel, Voorsitter 2019/20

Sonop vat jong seuns en leer hulle wat dit is om manne te wees. Manne wat met waarheid en krag die Koninkryk van God in ons midde vestig.  Manne wat met Liefde en Godvresendheid hulle rolle as hoof en priester van hul gesinne sal inneem.  Manne wat in God se lig wandel en aanhou soek na ‘n dieper verhouding met God.

Jacobus Cordier, Onder Voorsitter 2019/20

Hardewerk, deursettings vermoë en moeilike tye. Sonop leer jou hoe om onder moeilike omstandighede te funksioneer – diamante word slegs onder hoë druk gevorm. Christelike waardes, karakter en deursettingsvermoë, dis ons kultuur.

Elvis Zondi, HK 2019/20

“It’s hard to beat a person who never gives up.” – Babe Ruth. Hierdie aanhaling som ‘n Sonopper perfek op. ‘n Sonopper gaan nie noodwendig die beste op die veld of die slimste in die klas wees nie, maar hy gee NOOIT op nie, en dis wat Sonop laat uitstaan bo al die ander koshuise, dis wat Sonop die beste maak.

Stefan Kruger, HK 2019/20

Dit gaan oor trots. Dit gaan oor geskiedenis en tradisie. Dis die Hoop vir die toekoms. Op alle gebiede, van kultuur , akademie en op die sportveld. Word die gewone outjie eweskielik n held. Sondagaand ego die klank van n groep mans deur die Strate van Pretoria. 105 jaar se tradisie is altyd saam in gees. Want Bittermin kan n Sonopper wees.

Adriaan Lombard, HK 2019/20

‘n Sonop inwoner is ‘n doodnormale persoon wat harder werk as ander normale mense en dit is die kern tot Sonop se sukses.

Dewald van Lingen, HK 2019/20

Sonop is jou onregverdige voordeel in die lewe. Hierdie is iets wat ‘n Oud-Sonopper vir my gesê het en tot vandag toe bly dit my by. Elke dag wat verby gaan sien mens dat Sonop’n belegging in mens se lewe is.

Alex Winter, HK 2019/20

Wat is erger as ‘n huis sonder ‘n moeder…? Beslis “Sonop sonder ‘n Nonnie” As Sonop Nonnie is dit nie net my plig om elke jongman se maag vol te hou nie, maar uit liefde dra ek elke Sonopper se belange op die hart. Nonnie is jou ma weg van die huis…

Nonnie Jenny Buys

Huisvoorsitter: CM Kriel

As ek terugdink aan my studentejare tot dusver is daar een hoogtepunt wat kop en skouers bo die res uitstaan: my tyd hier in Sonop en al die herinneringe wat daarmee gepaard gaan.

Sonop is een van die oudste koshuise op Tuks en het daarom ‘n baie ryke kultuur en tradisie wat sedert 1916 kom. Daar is net 160 manne wat op ‘n slag in Sonop kan bly, daarom is dit ‘n groot voorreg om deel van hierdie unieke koshuis te kan wees. Die Sonop-familie is een wat nog baie jare by my sal bly en daarvoor sal ek ewig dankbaar wees.

Sonop is nie net ‘n gewone studente-woning nie. Daar is verskriklik baie dinge wat Sonop onderskei van enige ander studente-woning in die wêreld. Die twee dinge wat vir my uitstaan is die deursettingsvermoë en mentaliteit van ons inwoners. Die bekende Sonop-gesegde: “Jy sal nooit so baie vir Sonop kan beteken soos wat Sonop vir jou kan beteken nie” laat my net weer besef dat Sonop ‘n merkwaardige impak op al sy lede het gedurende hulle verblyf in Sonop en ook in die opeenvolgende jare.

Hoekom is Sonop die beste? Dit is hier in ons mure ingetrek, as jy by Sonop instap het die plek onmiddellik ‘n effek op jou. Dit is nie moontlik om Sonop en al sy dinge aan iemand van buite af te verduidelik nie. Die volgende aanhaling van CJ Langenhoven som vir my ‘n Sonopper goed op:

“Gee my ‘n man wat sê wat waar is
as die duiwel daar is,
wat doen wat reg is
as die regter weg is,
wat trou by sy gewete bly
as hy straf in plaas van beloning kry.“

Sonop se vier pilare is: Senioriteit, Lojaliteit, Integriteit en Dissipline. Hierdie waardes en jou Sonop-ervaring bied aan jou ‘n geheime wapen en voorsprong in die lewe. Hier in Sonop word jy die man wat jy nog altyd wou wees. Groei en ontwikkeling in Sonop is onafwendbaar – as onseker Ienk stap jy deur die hekke en ‘n paar jaar later stap jy as toegeruste Sonop-man die res van die wêreld in.

Laat die byle huil!